
Viëtnam
2 - 16 Julie 2026 Vetrek uit Johannesburg
‘n Eksotiese toer na die juweel van Suidoos-Asië.
‘n Land met asemrowende natuurskoon, ‘n skatryk geskiedenis en hartlike, gasvrye mense.
Maak gereed vir die smake, klanke, geure en kleure van Viëtnam.
Betaaldatum:
Betaaldatum van balans is op 2 April 2026. Fakture sal vroegtydig uitgestuur word.
Gebruik asb jou faktuurnommer as betalingsverwysing.
Vlugte:

Die vlug vertrek uit Johannesburg op 2 Julie om 13:35.
Die terugvlug land in Johannesburg op 16 Julie om 9:50.
Toerleier, Marius du Plooy, sal julle ontmoet by die instaphek, waar jy op die vliegtuig klim, sowat 45 minute voor instaptyd.
Visum:
VISUMS is elkeen se eie verantwoordelikheid.
Jy kan aansoek doen vir ‘n eVisum.
Dit kos $25 vir ‘n “Single entry” visum.
Gebruik slegs hierdie skakel: https://evisa.gov.vn/
Ons sal ‘n afsonderlike dokument stuur om te help met die visum-proses.
Reisversekering:
Reis-versekering is en bly elkeen se eie keuse en verantwoordelikheid.
Jy kan by enige versekeraar van jou keuse versekering uitneem.
‘n Paar goeie opsies om te oorweeg is TIC, Hollard, Chubb en Allianz.
Hier is ‘n link met meer inligting: https://www.mariusduplooy.com/reisversekering
NB WENK: Mense is dikwels onder die indruk dat dit meer kos as hulle lank voor die toer reeds versekering uitneem. Dis nie waar nie. Jy betaal slegs vir die tydperk van die toer, maar jy is verseker vanaf die oomblik wat jy dit uitneem. Indien iets ernstig lank voor die tyd gebeur en wat versekerbaar is, is jy gedek.
Sommige mense vra of hulle eie mediese versekering voldoende is. Maak asb self 100% by jou versekeraar seker of dit vodoende dekking is vir ‘n Schengen-visum.
Toerprogram:
2 Julie:
Vertrek uit Johannesburg.
3 Julie: [Aandete ingesluit]
Arriveer in Ho Chi Minh City, dan hotel toe, voor ons die aand saam aandete geniet.
4 Julie: [Ontbyt ingesluit]
Vandag se hoogtepunt is 'n besoek aan die Cu Chi Tonnels wat gebruik is tydens die Viëtnam oorlog. Slaap weer in Ho Chi Minh.
5 Julie: [Ontbyt]
Ons besoek die Mekong Delta omgewing en vaar op die Mekong rivier.
6 Julie: [Ontbyt]
Vlieg na Da Nang en ry van daar af na Hoi An met sy oustad en bekende kanale. Ons doen 'n staptoer deur Hoi An se oustad.
7 Julie: [Ontbyt & Middagete]
Ons besoek vandag die plattelandse omgewing rondom Hoi An, soos Cam Thanh. Dan vaar ons per boot op die Thu Bon rivier en het die kans om te vaar in 'n mandjie-boot. En 'n hoogtepunt is ons Viëtnamese Kook-klas.
8 Julie: [Ontbyt]
Vandag het ons 'n dag om Hoi An te verken op eie stoom, of net rustig te wees.
9 Julie: [Ontbyt & Middagete]
Vlieg na Hanoi. Na middagete is dit tyd vir 'n stadstoer, wat al die hoogtepunte insluit van Viëtnam se hoofstad.
10 Julie: [Ontbyt]
Vandag het ons vrye tyd om Hanoi vêrder te verken.
11 Julie: [Ontbyt, Middag- & aandete]
Vertek na die Pu Luong natuurreservaat, waar ons in 'n pragtige klein oord gaan bly wat omring is deur reisvelde.
12 Julie: [Ontbyt, Middag- & aandete]
Ons beleef vandag meer van die bekoorlike platteland, met dorpies en gehuggies. Jy kan ook saam met 'n vaardige gids roei op 'n bamboesboot, en ons besoek die Cam Luong vis-stroom.
13 Julie: [Ontbyt & Middagete]
Van Pu Luong na Ninh Binh verken ons vêrder die Viëtnamese platteland,
14 Julie: [Ontbyt]
'n Bus neem ons vandag na die skouspelagtige Lan Ha Baai vir ‘n vaart op 'n luukse boot waar ons ook oornag bly.
15 Julie: [Ontbyt]
Na ontbyt is daar nog 'n kans om te swem in Lan Ha Baai, voor ons die boot verlaat en terug ry na Hanoi.
Vanaand vlieg ons uit Hanoi.
16 Julie:
Aankoms in Johannesburg.
Enkele, sinvolle aanpassings aan die reisprogram is moontlik.
Ingesluit:
-
Internasionale vlugte.
-
2 plaaslike vlugte in Viëtnam.
-
Plaaslike vervoer in Viëtnam.
-
12 aande in netjiese hotelle.
-
1 aand op ‘n luukse tradisionele Viëtnamese boot in Halongbaai.
-
Alle ontbyte, asook 8 middag- en 4 aandetes.
-
Verskeie stadstoere en avonture.
-
'n Viëtnamese Kook-klas.
-
‘n Suid-Afrikaanse toerleier.
-
Viëtnamese Engelssprekende gidse.
-
Toegangsfooie.
Hotelle:
-
Ho Chi Minh THE ODYS BOUTIQUE
-
Hoi An LA CHARM HOTEL & SPA
-
Pu Luong PU LUONG NATURA
-
Ninh Binh LALITA BOUTIQUE HOTEL & SPA
-
Ha Noi LE JARDIN HAUTE COUTURE
-
Cruise Lan Ha LA CASTA LAN HA CRUISE
Geldsake:

Die geldeenheid in Viëtnam is VND: Vietnamese Dong.
R1 = 1 600 Vietnamese Dong.
Kontant was vir lank die primêre betaalmetode, maar kaarte word nou wyd aanvaar. In die stede en bekende toeristegebiede, gaan jy byna alles per kaart kan betaal. Daar is egter steeds sekere situasies wanneer jy beslis kontant nodig gaan hê.
Dit is nie moontlik om VND in Suid Afrika te kry nie, so jy gaan in Viëtnam moet trek, of jy kan Dollars of Euros ruil.
NB: Onthou om jou kredietkaartmense te laat weet wanneer jy in die buiteland sal wees.
Fooitjies:

Viëtnamese kultuur plaas 'n sterk klem op gasvryheid en goeie diens.
Indien jy kies om 'n fooitjie te gee, moet dit gesien word as 'n gebaar van waardering vir uitsonderlike diens, eerder as 'n verpligting.
Ons aanbeveling is R50+ per dag per persoon, wat dan gedeel sal word tussen die toergids en busbestuurder.
Die Weer:
Viëtnam is meer as 1 600 km lank, met die weer wat aansienlik kan verskil soos ons van Suid na Noord reis.
Die reënseisoen in Viëtnam staan bekend as die monsoon seisoen. Dit reën gewoonlik baie hard vir ‘n kort rukkie en dan skyn die son.
Sentraal-Viëtnam (Da Nang, Hoi An) bied die beste toestande met sonskyn en minder reën, ideaal vir strande; Noord-Viëtnam (Hanoi, Halongbaai) is warm met swaar middagreën; en die Suide (Ho Chi Minh-stad) sien daaglikse, kort middagbuie.
Verwag baie hoë vlakke van humiditeid.
Julie se gemiddeld is:
Minumum Maksimum Reën dae
Hanoi 27 34 8
Hoi An 26 34 5
Ho Chi Minh-stad 24 32 7
Klere ens:
-
Dis ‘n gemaklike vakansie en geen uithangklere is nodig nie.
-
Pak ligte klere, want dit gaan warm wees.
-
Jou reënbaadjie is ‘n noodsaaklikheid.
-
Gemaklike stapskoene/sandale.
-
Hoed, Sonbril, Swemklere en Sonskerm.
-
Dan natuurlik jou eie medikasie. Oorweeg ook: hoofpynpille, iets soos Imodium, Buscopan, iets vir naar, breëspektrum antibiotika, iets vir allergië, Voltaren (salf en pille), pleister, oogdruppels, ACC200, iets vir ‘n moontlike keelseer….
Proppe:
Ons tweepunt-proppe werk daar:


Connected:
Ons hotelle het WiFi en die meeste restaurante uiteraard ook.
Gewone roaming word al hoe goedkoper, so kyk gerus na jou opsies.
Jy kan ook net sms’e laat roam of jy kan data roam. Praat met jou diensverskaffer en onthou dat die ‘sms-roaming’ eers geaktiveer kan word op die lughawe anders gaan jy nie sms’e kan ontvang nie!! Dit gaan ook nie werk indien jy dit eers in die buiteland wil aktiveer nie!!
‘n eSim werk ook baie goed, as jy data nodig het. Dit is virtuele simkaarte wat data bied teen goeie pryse. Maar maak baie seker dat jou foon ‘n eSim kan gebruik.
Meer inligting oor roaming en eSim:

Handbagasie:
Goed soos handeroom, tandepasta, tandeborsel, parfuum, deo, oogdruppels, ens., sit ek in ‘n jiffy-sakkie en haal dit uit my kajuitsak uit voordat dit deur die ‘scanner’ gaan. Onthou dat die botteltjies ‘vloeistof’ nie meer as 100ml mag wees nie.
Gewing van bagasie:
Jou tas vir die internasionale vlug mag ‘n maksimum van 23 kg weeg. Handbagasie: 8 kg.
Toerlied:

Waar drome waar word
Daar waar drome waar word op die heuwels
Waar ek vry kan reis van land tot land
voeg ek nou die spore van my stewels
En ek hou die oomblik in my hand.
Daar waar drome waar word tussen mense
Waar ek ver kan reis van stad na stad
Deel ek nou in eeue en oor grense
Soveel nuwe prentjies in my hart.
Daar waar drome waar word in die strate
Waar ek altyd reis van dorp tot dorp
Voel die kronkelpaaie deur my are
vreemdes word vriende drome word waar.
Koor
Dis hier waar ons is, dis hier waar ons was.
Brandhout vir my oudag Vuur vir my onthoudag
Italiaans: Non dimenticare senza fine viaggi
Frans: N'oubliez pas les voyages sans fin
(Loshande vertaling: Herinneringe aan reise het geen einde nie)
Geskryf deur Marius du Plooy.
Sanger en komponis: Nardus du Plooy – Hoofsanger van die Kaalkop Waarheid.

