![]() |
|---|
“To travel is to live.”
Hans Christian Andersen
TOERVOORWAARDES
INGESLUIT
Vlugte: Lugvervoer in ekonomiese klas, soms vanaf Johannesburg en soms vanaf Kaapstad, soos aangedui in die reisplan.
Belasting: Lughawe- en brandstofheffings soos bereken ten tyde van kwotasie.
Vervoer: Vervoer in lugversorgde toerbusse soos plaaslik beskikbaar.
Akkommodasie: Gerieflike akkommodasie in goeie hotelle of woonstelle. Enkelakkommodasie is beskikbaar teen ’n bybetaling. Indien ’n persoon wat wil deel nie ’n geskikte kamermaat kry nie, sal die enkeltoeslag betaalbaar wees.
Etes: Soos aangedui in die reisplan.
UITGESLUIT
• Paspoorte, visums en reisversekering
• Opsionele uitstappies
• Fooitjies, drankies en persoonlike uitgawes
• Aansluitingsvlugte (voldoende oortyd moet toegelaat word)
BAGASIE
Bagasie is onderhewig aan die betrokke lugredery se bepalings. Elke toerlid is verantwoordelik vir sy/haar eie bagasie en hantering daarvan.
REISPLAN
Die reisplan kan soms aangepas word indien dit noodsaaklik is weens operasionele, veiligheids- of ander onvoorsiene omstandighede. Waar moontlik sal vooraf kennis gegee word. Enige wesenlike verandering sal betyds en duidelik aan toerlede gekommunikeer word.
TOERPRYS
Indien daar beduidende verhogings in lugtariewe, belastings of brandstofheffings plaasvind vóór finale betaling, mag die toerprys dienooreenkomstig aangepas word.
Enige aanpassing sal skriftelik gemotiveer word en gebaseer wees op werklike kosteverhogings.
Geen wisselkoersaanpassing sal gemaak word indien die Rand onder 20,50 teenoor die Euro bly nie.
OUDERDOM EN MOBILITEIT
Daar is geen ouderdomsbeperking nie — almal is welkom. Die aard van die toer vereis egter dat toerlede:
• Onafhanklik teen ’n redelike tempo kan stap
• Hul eie bagasie kan hanteer
Indien ekstra hulp of spesiale reëlings nodig is, kan dit teen addisionele koste gereël word. Indien ’n toerlid nie by die groep se tempo kan byhou nie, kan dit gebeur dat sekere aktiwiteite ongelukkig gemis word.
DEPOSITO EN BETALINGS
’n Deposito soos aangedui is betaalbaar om jou plek te verseker.
Die balans van die toerprys is betaalbaar 3 kalendermaande voor vertrek.
KANSELLASIES DEUR TOERLEDE
Indien ’n toerlid moet kanselleer, sal kansellasiefooie redelik wees en gebaseer wees op werklike verliese wat reeds aangegaan is.
Riglynfooie:
• Vanaf bespreking tot 90 dae voor vertrek: Verbeuring van volle deposito
• 89 – 60 dae voor vertrek: Tot 70% van toerprys
• 59 – 30 dae voor vertrek: Tot 90% van toerprys
• Minder as 30 dae voor vertrek: 100% van toerprys
Waar koste herwin kan word of die plek herverkoop kan word, sal toepaslike terugbetalings gemaak word minus administrasie- en onverhaalbare kostes (bv. naamveranderings).
KANSELLASIE DEUR TOEROPERATEUR
Die voortgang van ’n toer is onderhewig aan ’n minimum van 20 toerlede.
Indien ’n toer gekanselleer moet word weens onvoldoende getalle of onvoorsiene omstandighede, sal:
• Alle betaalde gelde volledig terugbetaal word, of
• ’n Alternatiewe toer as opsie aangebied word
Die operateur sal nie later as 90 dae voor vertrek kanselleer weens onvoldoende getalle nie.
GEDRAG
Ons streef daarna om ’n aangename en veilige ervaring vir almal te verseker. Die operateur behou die reg voor om deelname te beëindig indien ’n toerlid se gedrag die veiligheid of genot van ander ernstig benadeel. Enige besluit sal redelik, billik en na konsultasie geneem word.
AANSPREEKLIKHEID
Die toeroperateur tree op as agent vir derdepartyverskaffers soos lugrederye, hotelle en vervoermaatskappye, en sal redelike sorg gebruik in die keuse van hierdie verskaffers.
Die operateur kan nie aanspreeklik gehou word vir gebeure buite redelike beheer nie, insluitend maar nie beperk tot:
• Ongunstige weersomstandighede
• Stakings
• Regeringsregulasies
• Tegniese probleme by derde partye
Niks in hierdie bepalings beperk of sluit aanspreeklikheid uit vir verlies of skade wat voortspruit uit growwe nalatigheid van die toeroperateur waar dit ingevolge wet nie uitgesluit mag word nie.
WEGBREEKOPSIES
Wegbreek- of verlengingsopsies is onderhewig aan beskikbaarheid by die lugredery en kan addisionele koste meebring.
Die koste sal so spoedig moontlik gekommunikeer word voordat kaartjies uitgereik word.
Indien die kliënt verkies om nie die addisionele koste te aanvaar nie, kan die standaard reisreëlings gehandhaaf word.
REISVERSEKERING
Reisversekering word sterk aanbeveel vir jou eie beskerming en gemoedsrus. Dit bly die verantwoordelikheid van elke toerlid om voldoende dekking te verkry.


