Slowenië & Kroasië
23 Augustus - 6 September 2024
Baie vrye tyd en:
Eilande, watervalle, grotte, straatmarkte, wyne, eeue-oue plekke.. en lipleklekker kosse




Ons vlieg tot in Dubrovnik, reg in die suide van Kroasië, aan die Adriatiese see. In jou vrye tyd kan jy gaan stap hoog op die honderde jare-oue klipmuur rondom die ou stad, en die eeueoue kobbelstrate en geboue geniet. Dubrovnik, die "Pêrel van die Adria". is ook waar baie tonele van Game of Thrones verfilm is.
Kroasië kom tot sy reg wanneer ons vir drie dae tussen van die eilande van Kroasië deurvaar, anker gooi en in die see swem. Nadat ons in Split anker gooi, gaan slaap in die pragtige hawedorpie Trogir.
Ons slaap naby die Plitvice Nasionale Park - seker een van die wêreld se mooiste natuurgebiede waar jy honderde meter ver op houtbruggies (cat walks) langs kan stap terwyl ‘n wonderwêreld bo en rondom jou afspeel. Daar is 16 groter en tientalle kleiner blougroen mere en damme en riviertjies wat met honderde watervalle en strome inmekaar vloei en stort. Jy voel soos ‘n miniatuurmens wat verdwerg word terwyl ‘n waterval-simfonie tussen die bosse deur sweef.
Dan een van Slowenië se pragtige wynstreke en slaap in die wynomgewing van Jeruzalem. Hier gaan ons lekker, Sloweense wyn proe en die ongelooflike omgewing geniet.
Daarna die res van Slowenië vir ‘n ervaring van ‘n leeftyd: Die hoofstad, Lubljana, is ons basis vir die volgende klompie nagte. Lubljana met sy elkedagmark aan die Ljubljanica-rivier, wat soos ‘n reuse slang deur die middel van Lubljana kronkel. Van die varsste vrugte en groente staan die reuse markplein vol. Gaan kronkelstap oor die talle brue, gaan sit by een van die menigte restaurantjies en drink stadig aan die bier of wyn in jou hand, terwyl jy ook die omgewing gulsig indrink.
Ons stap deur die ongelooflike, reusagtige Postoijna grotte met sy asemrowende 20-kilometerlange netwerk van grotte en verbindings. ‘n Unieke bierproe-ervaring wag op ons en die wonderskone Bled-meer waar ons met Pletnabote vaar tot op die eiland in die middel van die meer. Daarna ‘n rit op die een-en-‘n-half kilometer-hoë Vogel ski-oord-kabelkar. Jy het ook genoeg vrye tyd om eie herinneringe te versamel.
Die Slowene het ‘n besondere verskeidenheid kossoorte wat redelik beïnvloed is deur omliggende lande. Daarom kry jy pasta in verskeie vorme - Italiaanse invloed. Maar vleis bly die hoofgereg met verskillende worssoorte wat duidelik die invloed van die aangrensende Oostenryk is, terwyl Kroasië en die res van die Balkanstate se braai-vleisresepte in Slowenië beland het. Hulle is ook sterk gefokus op kraakvars groente en vrugte wat op elke straatmark te koop is. Met vol mae en sakke vol herinneringe pak ons ons terugvlug huistoe aan, want ons het baie brandhout bymekaargemaak vir ons oudag...
“Moenie dat jy eendag wakker word en sonder tyd om DIT te doen wat jy nog altyd WOU gedoen het nie.’

Marius du Plooy
Skakel my by:
Cell: 083 787 1234
E-pos: marius@fundipro.co.za
- Toerleier van Europese toere en Franse kanaalbootvaarte
- Twee jaar in Europa gebly as SABC-korrespondent
- SABC-toerleier van drie Atties jeugtoere
- Besoeke aan en ervaring van 23 lande
R49 750
15 dae
23 Aug - 6 Sept 2024
Koste: R49 750 per persoon wat deel. (Enkelkamerprys – R54 500)
Deposito van R6 000
Ingesluit: Vlugte, verblyf, alle ontbyte, nege ander etes & busvervoer, Op die boot ook: Water, middagtee of -koffie, volledig-ingerigte kajuite, lugversorger, haardroëer, kaste, wifi, sondek, ens.
Uitgesluit: Vrywillige fooitjies, drinkgoed soos van die bootkroeg, en als wat nie as ingesluit aangedui word nie.
Toerprogram:
23 Aug
Vertrek uit SA
24 Aug
‘n uur of twee nadat ons in Istanbul land, vlieg ons direk na Dubrovnik toe vir eie, vrye tyd. Slaap in Dubrovnik hotel. Aandete ingesluit.
25 Aug
Oggend in Dubrovnik eie tyd.
Boot vertrek 14.00 na die eiland Korcula. Aandete op die boot.
26 Aug
Boot vaar van Korcula na die bekende eiland Hvar, waar ons kan rondstap en slaap weer op die boot. Ontbyt en middagete ingesluit.
27 Aug
Vaar van Hvar na Split en slaap in Split op die boot. Ontbyt en middagete ingesluit.
28 Aug
Af van die boot af en per bus na en slaap in Trogir.
29 Aug
Vertrek via Zadar na Hotel Mirjana Rastoke. Aandete ingesluit.
30 Aug
Bus na die Plitvice Waterval. Daarna na Slowenië en die Hotel Radin Radenski-warmwaterbron in die pragtige Jeruzalem wyngebied.. Aandete ingesluit.
31 Aug
Na ontbyt (en die wat wil, swem in die reuse, binneshuise, warmbron-swembad) gaan ons wyn proe op ‘n wynlandgoed in die asemrowende wyngebied. Daarna per bus na Ljubljana.
1 Sept
Markdag en vrye tyd in Lubljana.
2 Sept
Besoek die reusagtige Postojna grotte, geniet ‘n unieke bierproe plus ligte middagpeusel. Terug na Ljubljana.
3 Sept
Besoek lake Bled, vaar met ‘n tradisionele Pletnaboot & ‘n kilometer op in die Bonhi kabelkar met middagete. Slaap in Ljubljana.
4 Sept
Totsiens Ljubljana en ons vertrek na Skofja Loka en ‘n koebaai- middagete met ‘n besondere uitsig. Aankoms Istanbul. Slaap Istanbul
5 Sept
Dag vrye tyd in Istanbul. Vertrek vroegaand na die lughawe en na middernag terug na SA
6 Sept
Vertrek na en land in SA