
Seine Panorama-vaart: Inligting vir Toerlede
26 Augustus - 6 September 2026
Vetrek uit Johannesburg
9 dae op die Seinerivier in die gemak van 'n luukse rivierboot.
Betaaldatum:
Betaaldatum van balans is voor of op 26 Mei 2026. Fakture sal vroegtydig uitgestuur word.
Gebruik asb jou faktuurnommer as betalingsverwysing.
Vlugte:

Dit is ‘n retoervlug met Qatar Airways.
Almal moet uiteraard self by die punt uitkom van waar die toer vertrek.
Die vlug vertrek uit Johannesburg op 26 Augustus om 20:40.
Die terugvlug land in Johannesburg op 6 September om 16:10.
Die lugredery ken groepe se sitplekke outomaties toe. As jy ‘n spesifieke sitplek verlang, kan jy dit aanlyn via Qatar se webtuiste doen, maar eers nadat jy jou vliegkaartjie ontvang het. Alle sulke besprekings kos deesdae ekstra.
Visum:
-
Visums is elkeen se eie verantwoordelikheid.
-
‘n Schengen-visum is nodig vir die toer.
-
Capago hanteer aansoeke vir ‘n Franse visa.
-
Capago het kantore in Johannesburg, Kaapstad, met satelietkantore in Durban en Port Elisabeth.
Gebruik hierdie skakel: https://france-visas.gouv.fr/en
Dit is bietjie van ‘n proses, maar volg net die stappe. Jy gaan eers geneem word na ‘n ander blad toe om die vorm in te vul en daarna kan jy jou visum-afspraak maak.
As jy hulp nodig het met die proses, bied Capago ‘n All-Inclusive Package teen €85.
-
As an All-Inclusive applicant, enjoy a fully turnkey experience with personalised guidance from a dedicated agent at every stage of your visa journey. From preparing your application to final submission, our team ensures you meet all consulate requirements with ease and efficiency, while also offering a wide range of additional services tailored to make your process seamless.
(Volgens Capago se webtuiste)
MAAR – Jy kan eers vir ‘n visum aansoek doen nadat jy die vliegkaartjie ontvang het. Jy ontvang dit eers nadat almal die volle toerbedrag betaal het – Fakture word in of voor April aan julle gestuur. Jy ontvang dan saam met die vliegkaartjie, ook die toeroperateursverklaring wat alle buitelandse vervoer- en verblyf-inligting gee, soos die visummense dit verwag.
NB: Paspoorte MOET 3 maande geldig wees nadat jy ‘n Schengenland binnegaan.
Reisversekering:
Reis-versekering is en bly elkeen se eie keuse en verantwoordelikheid.
Jy kan by enige versekeraar van jou keuse versekering uitneem.
‘n Paar goeie opsies om te oorweeg is TIC, Hollard, Chubb en Allianz.
Hier is ‘n link met meer inligting: https://www.mariusduplooy.com/reisversekering
NB WENK: Mense is dikwels onder die indruk dat dit meer kos as hulle lank voor die toer reeds versekering uitneem. Dis nie waar nie. Jy betaal slegs vir die tydperk van die toer, maar jy is verseker vanaf die oomblik wat jy dit uitneem. Indien iets ernstig lank voor die tyd gebeur en wat versekerbaar is, is jy gedek.
Sommige mense vra of hulle eie mediese versekering voldoende is. Maak asb self 100% by jou versekeraar seker of dit vodoende dekking is vir ‘n Schengen-visum.
Toerprogram:
26 Aug
Vlieg uit Suid Afrika.
27 Aug
Land in Parys en vertrek die aand op ons Seinevaart.
28 Aug
Aankoms in Rouen.
29 Aug
Bly in Rouen.
30 Aug
Vaar van Rouen na Le Havre.
31 Aug
Vertrek laat-aand uit Le Havre.
1 Sep
Arriveer vroegogend in Caudebec-en-Caux en vertrek weer laataand.
2 Sep
Spandeer die oggend in Les Andelys en vaar dan in Vernon.
3 Sep
Oggendbesoek aan La Roche-Guyon en bereik vasmeerhawe naby Parys die aand.
4 Sep
Ontdek Parys in eie, vrye tyd.
5 Sep
Verlaat die boot en groet Frankryk.
6 Sep
Land in Suid Afrika.
Vasmeerplekke vir die boot verskuif
Die vasmeerplekke van die boot verander weens ontoeganklikheid a.g.v. instandhouding van onder meer brue. Die nuwe vasmeerplekke is nou heelwat verder, hoewel Parys steeds redelik maklik met openbare vervoer bereikbaar is. Maar….
Goeie nuus: Vir die laaste dag vrye tyd in Parys, het ons spesiaal vir ons groep ‘n bus bepreek wat ons die oggend na ontbyt by die boot kom haal en Parys toe neem. Die bus bring ons dan weer die laatmiddag terug boot toe. Die bus kos julle niks ekstra nie.
Diegene wat Parys die aand egter langer wil verken en nie saam met die bus teruggaan boot toe nie, sal dan op eie koste met openbare vervoer moet terugkom boot toe.
Die eerste aand vertrek die boot reeds sowat 4 ure nadat ons aan boord gaan.

Wat wil jy waar doen?
Ons stuur weke voor vertrek meer inligting oor die boot se amptelike “excusions”. Jy kan dan besluit wat jy in jou eie tyd wil doen en of jy op van die boot se amptelike uitstappies wil gaan (teen hulle ekstra koste). Met die bostaande inligting het jy intussen tyd om Oom of Tannie Google uit te vra oor wat die plekke bied om te pas by jou eie belangstellings.
Ingesluit:
-
Retoervlugte uit Johannesburg.
-
Alle vervoer na en van die lughawe
-
Al jou etes op die boot
-
Tussenpeusel op boot
-
Alle nie-alkoholiese drinkgoed, asook bier & wyn op die boot.
Geldsake:

Die geldeenheid in Frankryk is die Euro.
Jy kan by meeste plekke jou kredietkaart/debietkaart daar gebruik.
Jy kan ook daar geld trek of ruil. Dis altyd goed om minstens ‘n bietjie kontant te hê.
NB Onthou om jou kredietkaartmense te laat weet wanneer jy in die buiteland sal wees.
Fooitjies:

Fooitjies is nie verpligtend nie. Daar sal welfooitjies voorgestel word vir die bemanning wat na ons omsien vir die tyd op die boot.
Die Weer:
Wat die weer betref, behoort dit lekker warm somer-temperature te wees.
Augustus-September se gemiddeld is:
Parys 24° / 14° met 6 dae van reën
Rouen 22° / 12° met 7 dae van reën
Le Havre 21° / 14° met 11 dae van reën
Klere ens:
-
Dit help om in lae aan te trek.
-
Onthou ‘n reënbaadjie en iets warms.
-
Gemaklike stapskoene/sandale.
-
Hoed, Sonbril en Swemklere.
-
Dan natuurlik jou eie medikasie. Oorweeg ook: hoofpynpille, iets soos Imodium, Buscopan, iets vir naar, breëspektrum antibiotika, iets vir allergië, Voltaren, pleister, oogdruppels, ACC200, iets vir ‘n moontlike keelseer….
Proppe:
Ons tweepunt-proppe werk daar:

Connected:
Ons hotelle het WiFi en die meeste restaurante uiteraard ook.
Gewone roaming word al hoe goedkoper, so kyk gerus na jou opsies.
Jy kan ook net sms’e laat roam of jy kan data roam. Praat met jou diensverskaffer en onthou dat die ‘sms-roaming’ eers geaktiveer kan word op die lughawe anders gaan jy nie sms’e kan ontvang nie!! Dit gaan ook nie werk indien jy dit eers in die buiteland wil aktiveer nie!!
‘n eSim werk ook baie goed, as jy data nodig het. Dit is virtuele simkaarte wat data bied teen goeie pryse. Maar maak baie seker dat jou foon ‘n eSim kan gebruik.
Meer inligting oor roaming en eSim:

Handbagasie:
Goed soos handeroom, tandepasta, tandeborsel, parfuum, deo, oogdruppels, ens., sit ek in ‘n jiffy-sakkie en haal dit uit my kajuitsak uit voordat dit deur die ‘scanner’ gaan. Onthou dat die botteltjies ‘vloeistof’ nie meer as 100ml mag wees nie.
Gewig van bagasie:
Jou tas vir die internasionale vlug mag ‘n maksimum van 23 kg weeg. Handbagasie: 8 kg.
Toerlied:
Waar drome waar word
Daar waar drome waar word op die heuwels
Waar ek vry kan reis van land tot land
voeg ek nou die spore van my stewels
En ek hou die oomblik in my hand.
Daar waar drome waar word tussen mense
Waar ek ver kan reis van stad na stad
Deel ek nou in eeue en oor grense
Soveel nuwe prentjies in my hart.
Daar waar drome waar word in die strate
Waar ek altyd reis van dorp tot dorp
Voel die kronkelpaaie deur my are
vreemdes word vriende drome word waar.
Koor
Dis hier waar ons is, dis hier waar ons was.
Brandhout vir my oudag Vuur vir my onthoudag
Italiaans: Non dimenticare senza fine viaggi
Frans: N'oubliez pas les voyages sans fin
(Loshande vertaling: Herinneringe aan reise het geen einde nie)
Geskryf deur Marius du Plooy.
Sanger en komponis: Nardus du Plooy – Hoofsanger van die Kaalkop Waarheid.


