
Donauvaart plus Praag: Inligting vir Toerlede
13 - 25 Oktober 2026
Vetrek uit Kaapstad
Dis mos nou ‘n vakansie! Sewe dae op ‘n luukse boot met al drie etes, non-alkoholiese drinkgoed, asook bier en wyn ingesluit.
Voor die vaart slaap ons ‘n aand in die prentjiemooi Passau in Duitsland. Tydens die vaart besoek ons ‘n verskeidenheid van Europese stede soos, Wene, Melk & Krems in Oostenryk, Esztergom & Budapest in Hongarye en Bratislava in Slowakye. Daarna is ons twee dae en Praag in die Tsjeggiese Republiek.
Betaaldatum:
Betaaldatum van balans is voor of op 13 Julie 2026. Fakture sal vroegtydig uitgestuur word.
Gebruik asb jou faktuurnommer as betalingsverwysing.
Vlugte:

Dit is ‘n retoervlug met Turkish Airways.
Almal moet uiteraard self by die punt uitkom van waar die toer vertrek. (Behalwe die wat eie vlugte gereel het.)
Die vlug vertrek uit Kaapstad op 13 Oktober om 16:35.
Die terugvlug land in Kaapstad op 25 Oktober om 11:50.
Die lugredery ken groepe se sitplekke outomaties toe. As jy ‘n spesifieke sitplek verlang, kan jy dit aanlyn via Turkish Airways se webtuiste doen, maar eers nadat jy jou vliegkaartjie ontvang het. Alle sulke besprekings kos deesdae ekstra.
Visum:
-
Visums is elkeen se eie verantwoordelikheid.
-
‘n Schengen-visum is nodig vir die toer.
Dit is ‘n Oostenrykse visum, aangesien ons die langste daar deurbring. Maak ‘n afspraak op die webtuiste: https://visa.vfsglobal.com/zaf/en/aut
Kyk ook self op die webtuiste wat jy als nodig het en wat jy als moet gereed kry en saam neem vir jou Visumaansoek. Die reëls verander soms van jaar tot jaar.
MAAR – Jy kan eers vir ‘n visum aansoek doen nadat jy die vliegkaartjie ontvang het. Jy ontvang dit eers binne 2 weke nadat almal die volle toerbedrag betaal het – Fakture word sowat 'n maand voor die betaaldatum aan julle gestuur.
Jy ontvang dan saam met die vliegkaartjie, ook die toeroperateursverklaring wat alle buitelandse vervoer- en verblyf-inligting gee, soos die visummense dit verwag.
NB: Paspoorte MOET 3 maande geldig wees nadat jy die Schengenlande verlaat.
Reisversekering:
Reis-versekering is en bly elkeen se eie keuse en verantwoordelikheid.
Jy kan by enige versekeraar van jou keuse versekering uitneem.
‘n Paar goeie opsies om te oorweeg is TIC, Hollard, Chubb en Allianz.
Hier is ‘n link met meer inligting: https://www.mariusduplooy.com/reisversekering
NB WENK: Mense is dikwels onder die indruk dat dit meer kos as hulle lank voor die toer reeds versekering uitneem. Dis nie waar nie. Jy betaal slegs vir die tydperk van die toer, maar jy is verseker vanaf die oomblik wat jy dit uitneem. Indien iets ernstig lank voor die tyd gebeur en wat versekerbaar is, is jy gedek.
Sommige mense vra of hulle eie mediese versekering voldoende is. Maak asb self 100% by jou versekeraar seker of dit vodoende dekking is vir ‘n Schengen-visum.
Toerprogram:
13 Oktober: Vlieg van Kaapstad na Praag
14 Oktober: Aankoms in Praag en per bus na Passau in Duitsland.
15 Oktober: Vertrek laatmiddag vanaf Passau op ons boot vir ‘n bederf-avontuur soos min.
16 Oktober: Vasmeer in Wene, Oostenryk teen middeldag om op jou eie te gaan “explore”, of van een van die betaaltoere mee te maak.
17 Oktober: Steeds in Wene en die boot vertrek vroegaand.
18 Oktober: Vaar via Esztergom en meer vas in Budapest, Hongarye. Seker een van Europa se mooiste stede! Vaar die strate in en gaan maak “memories”.
19 Oktober: Steeds in Budapest. Ons boot vertrek vanmiddag. Daar is so baie om te sien en doen – gaan loop net rond en leef en beleef dit.
20 Oktober: Oggend in Bratislava, Slowakye en vertrek die laatmiddag. Hierdie stad wat dateer uit 907 na Christus is nog ‘n moet-gaan-rondloop-en-geniet-stad. Bratislava is deur baie oor eeue beskryf as die jonger suster van Praag…
21 Oktober: Via Krems & Melk in Oostenryk en vaar dan deur die pragtige Wachau-vallei.
22 Oktober: Terug in Passau & neem die bus tot in Praag waar ‘n bus op ons wag om ons na ons hotel te neem. Twee-uur-lange staptoer deur Praag.
23 Oktober: Vrye tyd in Praag
24 Oktober: Vlug van Praag na SA
25 Oktober: Aankoms in Kaapstad
Boot se aankoms & vertrek-plekke & tye

Wat wil jy waar doen?
Ons stuur weke voor vertrek, sodra ons dit van A-Rosa ontvang, meer inligting oor die boot se amptelike “excusions”. Jy kan dan besluit wat jy in jou eie tyd wil doen en of jy op van die boot se amptelike uitstappies wil gaan (teen hulle ekstra koste). Met die bostaande inligting het jy intussen tyd om Oom of Tannie Google uit te vra oor wat die plekke bied om te pas by jou eie belangstellings.
Ingesluit:
· Jou retoervlug uit Kaapstad
· ALLE vervoer tussen die lughawe, die boot en hotelle.
· Al jou etes op die boot en tussenpeusel.
· Alle nie-alkoholiese drinkgoed, asook sekere biersoorte & huiswyn op die boot.
· Twee nagte met bed en ontbyt in Praag-hotel.
· Staptoer in Praag.
· Een nag met bed en ontbyt in Passau-hotel.
Geldsake:

Euro is die geldeenheid in meeste van die lande wat ons besoek.
In Praag is die geldeenheid Czech Koruna.
Praag is oor die algemeen 'n kaartvriendelike stad, met kaarte wat aanvaar word by die meeste winkels, restaurante en selfs op openbare vervoer.
Jy kan ook redelik vêr kom met Euros. So jy kan dalk ’n paar Koruna daar trek, maar ons is net 2 aande in Praag.
In Hongarye is die geldeenheid die Forint.
By baie plekke kan jy met Euros betaal en jou kaart word by meeste plekke aanvaar in Budapest en ons is net 1 dag in daar. Plus 2.5 ure in Esztergom.
Jy kan nie Czech Koruna of Hongaarse Forint bestel in SA nie. Jy kan dit daar trek of Euros/Dollars ruil.
Vir die res van die toer kan jy ook by meeste plekke jou kredietkaart of debietkaart gebruik. Jy kan ook daar geld trek of ruil. Dis altyd handig om ‘n paar Euros uit SA saam te neem.
NB Onthou om jou kredietkaartmense te laat weet wanneer jy in die buiteland sal wees.
Fooitjies:

Fooitjies is nie verpligtend nie. Daar sal wel fooitjies voorgestel word vir die bemanning wat na ons omsien vir die tyd op die boot.
Die Weer:
Wat die weer betref, behoort dit koel tot koue Europese herfs-weer te wees.
Oktober se historiese gemiddeld is:
Wene 15° / 9° met 6 dae van reën
Budapest 17° / 8° met 5 dae van reën
Praag 14° / 7° met 5 dae van reën
Op die boot word die temperatuur in openbare areas gehou op 'n gemaklike 20-22 grade,
en daar is lugversorging in elke kajuit.
Klere ens:
-
Dis ‘n gemaklike vakansie en geen uithangklere is nodig nie.
-
Wees gereed vir enige weer.
-
Dit help om in lae aan te trek.
-
Jou reënjas of sambreel en ‘n lekker warm baadjie is ‘n noodsaaklikheid.
-
Gemaklike stapskoene/sandale.
-
Hoed, Sonbril en Swemklere - want daar is ‘n swembad en sauna op die boot en Budapest is bekend vir sy warmwater-swembaddens.
-
Dan natuurlik jou eie medikasie. Oorweeg ook: hoofpynpille, iets soos Imodium, Buscopan, iets vir naar, breëspektrum antibiotika, iets vir allergië, Voltaren (salf en pille), pleister, oogdruppels, ACC200, iets vir ‘n moontlike keelseer….
Proppe:
Ons tweepunt-proppe werk daar:

Connected:
Ons hotelle en die boot het WiFi en die meeste restaurante uiteraard ook.
Gewone roaming word al hoe goedkoper, so kyk gerus na jou opsies.
Jy kan ook net sms’e laat roam of jy kan data roam. Praat met jou diensverskaffer en onthou dat die ‘sms-roaming’ eers geaktiveer kan word op die lughawe anders gaan jy nie sms’e kan ontvang nie!! Dit gaan ook nie werk indien jy dit eers in die buiteland wil aktiveer nie!!
‘n eSim werk ook baie goed, as jy data nodig het. Dit is virtuele simkaarte wat data bied teen goeie pryse. Maar maak baie seker dat jou foon ‘n eSim kan gebruik.
Meer inligting oor roaming en eSim:

Handbagasie:
Goed soos handeroom, tandepasta, tandeborsel, parfuum, deo, oogdruppels, ens., sit ek in ‘n jiffy-sakkie en haal dit uit my kajuitsak uit voordat dit deur die ‘scanner’ gaan. Onthou dat die botteltjies ‘vloeistof’ nie meer as 100ml mag wees nie. Die 100ml beperking is op die kapasitiet van die houer, en nie die inhoud nie.
Gewig van bagasie:
Jou tas vir die internasionale vlug mag ‘n maksimum van 23 kg weeg. Handbagasie: 8 kg.
Jy mag geen "power bank" in jou inweegbagasie hê nie. Dit moet in jou handbagasie wees.
Eie drinkgoed
Jy word toegelaat om tot 5 liter drank in jou inweegbagasie saam te neem, waarvan 1 liter sterk drank mag wees.
MAAR jy mag onder geen omstandighede jou eie drank op die boot gebruik nie.
Toerlied:
Waar drome waar word
Daar waar drome waar word op die heuwels
Waar ek vry kan reis van land tot land
voeg ek nou die spore van my stewels
En ek hou die oomblik in my hand.
Daar waar drome waar word tussen mense
Waar ek ver kan reis van stad na stad
Deel ek nou in eeue en oor grense
Soveel nuwe prentjies in my hart.
Daar waar drome waar word in die strate
Waar ek altyd reis van dorp tot dorp
Voel die kronkelpaaie deur my are
vreemdes word vriende drome word waar.
Koor
Dis hier waar ons is, dis hier waar ons was.
Brandhout vir my oudag Vuur vir my onthoudag
Italiaans: Non dimenticare senza fine viaggi
Frans: N'oubliez pas les voyages sans fin
(Loshande vertaling: Herinneringe aan reise het geen einde nie)
Geskryf deur Marius du Plooy.
Sanger en komponis: Nardus du Plooy – Hoofsanger van die Kaalkop Waarheid.

