top of page

Op 'n Franse kanaalboot

Kraakvars baguette, plaaslike wyn en kaas – elke dag!

Dit is een van daai ongelooflike vakansies waaroor jy en jou vriende nooit uitgepraat raak nie en iets wat jy in byna die hele Europa kan beleef. In jou eie kanaalboot. Jy ry en bly en bestuur jou eie luukse boot en ervaar mense en dinge wat jy op geen ander manier kan beleef nie. 

Ons het met ons eie boot op die kanale en riviere van die Franse platteland gevaar.

Drie of vier keer per dag meer jy vas by die klein plattelandse dorpies en verskonings vir dorpies. Daar maak jy seker dat jy die Boulangerie (bakkery) oopkry vir jou voorraad kraakvars Franse baguette. En as daar plaaslik kaas gemaak word… nog beter. En plaaslike wyn … steeds beter!

 
 

As jy nie hou van elke dorpie se unieke boustyle of ‘n 600 jaar oue kerk nie kan jy altyd by ‘n straatkafeetjie gaan sit en dan drentel jy weer met die klein klipstraatjies terug boot toe.

‘n Reis op ‘n kanaalbootis seker een van die mees karaktervolle vakansies wat mens kan beleef. En alles teen vyf of ses kilometer per uur. Jy kan niks miskyk nie.

Kanaalbote (Barging) is oral in Europa bekend en gewild. Daar is duisende kilometer kanale wat honderde jare gelede as vervoerkanale gebou is vir vragbote wat deur muile getrek is as ‘n goedkoop manier van vragvervoer. Toe dit as vragvervoerkanale in onbruik raak, is dit deur die toeriste-industrie omskep as een van die lekkerste vakansiehoumaniere wat mens kan bedink.

Die Le Boat-bote is verskillende groottes en jy kan selfs ‘n romantiese vakansie vir twee beplan. As die vriendekring te groot raak, kan jy of ‘n groter boot (tot 12 persone) of twee kleiner bote bespreek. Die meeste bote is luuks met ‘n kombuisie, slaapkajuite, storte en toilette en ‘n redelike ruim kuierplek. Meestal is daar selfs ‘n alternatiewe stuur op die dek waar jy heerlik in die son kan sit en die omgewing teen net vinniger as loopspoed ervaar.

 

En dit is glad nie duur, as jy alles in aanmerking neem nie. Die groot voordeel van so ‘n kanaalboot-vakansie is dat jy jou yskas en kombuiskaste kan volmaak met ‘n voorraad wat jy by die plaaslike supermark koop. Omdat jy verder op die boot bly en ry, is dit ‘n redelik bekostigbare vakansie, veral as jy dit met ‘n paar vriende deel.

Terwyl die boot teen ‘n slakkepas vaar, is daar baie tyd om met ‘n glasie wyn in die hand die voëls en otters te bewonder en die eende en swane te voer.

Maar net voordat jy dink dit is ‘n dooierige affêre - dis nie alles net sit en niksdoen nie. Daar is kort-kort bietjie sluis-aksie op die boot.

Elke keer as jou boot deur ‘n sluis vaar, het die kaptein (dis nou jy of een van jou groep) hulp nodig om die toue om die oewer-ankers te kry en die boot stabiel te hou. Die boot kan soms bietjie ronskommel, soos wat die water by die sluis in of uitgelaat word. Ons is tydens ons weeklange toer deur 29 sluise en het in totaal byna 80 meter gestyg en gedaal.

By die meeste sluise sak of styg jy sowat 1,5 tot 2 meter, maar soms tref jy ‘n 4 meter sluis. Dan voel jy nogal verdwerg onder in die sluis totdat die water jou boot stadig lig, die sluisdeur voor jou oopmaak en jy verder vaar.

Dit gebeur natuurliklik nie voordat mens probeer het om ‘n geselsie aan te knoop met die Franse sluiswagter nie. Meestal nie baie suksesvol nie, maar dis ongelooflik hoe ver ons kon kom met ‘n positiewe gesindheid, baie lag en handgebare en ‘n Suid-Afrikaanse vlag wat agter op die boot wapper. Soms is daar meer as een boot in die sluis, en dan maak jy sommer blisvinnig vriende met die Britte, Hollanders, Duitsers of Amerikaners op die ander boot.

Ek het na ‘n ruk ophou tel aan al die chatteau’s – ‘n kruising tussen ‘n kasteel en ‘n herewoning. Natuurlik het ons in die loop van die week elkeen vir ons ‘n chatteau ‘gekoop’ – een waar ons nog jare lank in ons verbeelding gaan besoek.

 

Die ander lekkerte is dat jy kan vasmeer wanneer jy wil. Maar die groot lekkerte is daai ongelooflike laatmiddag-aande se kuier op die boot. En wanneer die son uiteindelik teen halftien die aand kop intrek, klink ons nog ‘n glasie Franse Syrah op die onbeskryflike, volkleur sonsondergang.

Ons het reeds sewe keer op 'n kanaalboor deurgebring.

En as jy dalk moeg sou raak vir die rustigheid, vra jy eenvoudig vir die kaptein om vas te meer sodat jy die fietse van die boot kan afkry. ‘n Uur later haal die boot jou in waar jy langs die kanaal sit en wag. By elke vasmeerplek kan jy natuurlik ook die wêreld vol stap, sonder om ‘n oomblik aan veiligheid te dink.

 

Die ervaring van die een vaart was ons besoek aan die dorpie, Sancerre met ‘n asemrowende uitsig op die Loire vallei. Hoewel Sancerre, soos elke ander dorpie ‘n ryk geskiedenis het en eiesoortige bekoring inhou, was ons vasmeer by Sancerre die begin van ‘n dag wat hardekool-brandhout sal bly vir ons oudag.

Ons besoek toe die Henri Bourgeois wynlandgoed in die dorpie Chavignol vlakby Sancerre. En Sandra Bourgeois, wat getroud is met Jean-Christoff. Sandra was ‘n nooi Malan uit Ladybrand in die Vrystaat voordat sy as kelnerin op Stellenbosch, die Fransman se hart gesteel het.

Daar het ons ‘n middagete-wynproe gehad wat die beste gourmet-woorde nie kan beskryf nie. “Volgens Franse tradisie moet mens voor, na en saam met elke gereg ‘n ander wyn gebruik”, vertel Jean-Christoff. “Een wat by die gereg se smaak en tekstuur pas”.

En ons het ge-eet en geproe! Drie ure lank…

Die Sancerre-streek is die ‘wêreldhoofstad’ vir Sauvignon Blanc met ‘n ongelooflik ryk geskiedenis. Maar net soos die hele wynkultuur van die gebied, is dit ‘n storie vir ‘n ander keer.

 
 

En so was elke vasmeer en rondstap of fietsry in elke dorpie, elke glasie wyn of bier by ‘n straatkafee, al die vreemde name en nuwe geure en smake, ‘n belewenis waaraan geen artikel of foto-album reg kan laat geskied nie.

Dis asof daar vir honderde jare bitter min gedoen is om die geboue in stand te hou, maar sonder dat dit inmekaar stort. Asof die erosie met opset toegelaat is om in die mure in te vreet. Want in die oënskynlike rou, onversorgdheid ontplof daar juis kontrasterende asemwegslaners waar die bloedrooi Rose en Malvas uit die bruin-grysbruin barse en skeure kruip.

Dis ‘n week se totale andersheid en doen-waarvoor-jy-lus-is teen die tempo waaroor jy en jou vriende besluit. Waar jy die rustigheid moet omhels, maar terselfdertyd elke brokkie nuwe ervaring moet gaan verken en verorber.

As jy nie hou van rustige, lekker kuier en eet en drink nie, kies liewer ‘n ander vakansie!

Bel Marius by 083 787 1234 of marius@fundipro.co.za

As die son bedags skyn is daar geen lekkerder plek as die dek om te kuier nie.
Maar selfs teen halftien die aand in Junie hou die kuier nie op nie.
‘n Tipiese kontrasprentjie in Frankryk. Die ‘verwaarlose’ saam met die skoonheid.

Om in en deur ‘n sluis te beweeg is altyd ‘n belewenis. Mens sak of styg soms tot vier meter om weer op die volgende kanaalvlak te kom.

Op elke plattelandse dorpie is alles ‘n anderwêreldse belewenis.

 

 

 

Skakel met my as jy meer inligting benodig: 083 787 1234  marius@fundipro.co.za

 

 
bottom of page